Die skool
Geagte ouers / voogde en vriende van ons skool
Laerskool Brits 1910 - 2012
Oor die meer as 100jaar is daar met ons waterpas en maatlyn aan 'n enkelmuur gebou, asof dit die fondament van 'n wolkekrabber is. Daar is dinamiese bydraes gelewer om van ons skool 'n baken van hoop vir die toekoms te maak. By Laerskool Brits is daar elke dag die ekstra myl gestap om opvoedende onderwys te bevorder. Uitnemendheid, doelgerigtheid, tradisievastheid en Christelike Afrikaanse toekomsvisie is die roep van die Britsies.
Ons weet uitdagings is ons grootste geskenk. Daarom werk Personeellede, Beheerliggaamlede, Hulp- en Ondersteunersfondslede, Ouers en Leerders met bruisende entoesiasme om kwaliteitonderwys op alle terreine te verwesenlik. Saam is ons sterker en maak ons van elke struikelblok 'n boublok.
Met ons oë gerig op ons Hemelse Vader en deur Hand aan die ploeg te hou, omskep ons elke geleentheid in 'n uitdaging en sien ons elke dag die blink-oog kinders wat opgewonde is oor die toekoms. U word nou uitgenooi om kennis te neem van alles wat Laerskool Brits aan ons leerders bied in die belangrikste vormingsjare van sy/haar loopbaan.
Mnr PCJ Loots (Skoolhoof)