DIE AANPASSING VAN GRAAD 3 NA GRAAD 4

Wietske Boon

Onthou jy nog jou heel eerste werksdag? Moontlik was jy angstig, onseker of oorweldig of het jy gewonder of jy die pyp gaan rook. Dalk was jy skrikkerig oor die moontlikheid dat jy foute gaan maak omdat jy nog die nuwe omgewing moes leer ken.

Onthou jy nog jou kind se eerste dag in Graad 1? Dalk onthou jy ook die opgewondenheid, onsekerheid en angs van daardie eerste dag van ‘n nuwe fase in julle lewens.

Nou is jou kind in Graad 4. Wat ‘n groot aanpassing! Dit vergelyk dalk in ‘n mate met jou emosies van jou eerste werksdag of daardie eerste skooldag 3 jaar gelede.

 Wat het verander?

Jou kind is nou meer onafhanklik.  In Graad 1 was hy nog baie afhanklik van jou ondersteuning.  Nou het jou kind die behoefte om meer onafhanklik te funksioneer, maar hy het steeds emosionele ondersteuning nodig. In hierdie fase is hulle nie meer klein kinders nie, maar ook nie groot genoeg om heeltemal onafhanklik te funksioneer nie.  Lees meer oor die voortiener fase: 

http://childtherapist.co.za/afrikaans/artikelkategorie/terapieartikel55.html

 In Graad 1 kon die onderwyser ‘n verhouding met elke kind in haar klas hê en het sy aandag aan die kinders se emosionele behoeftes ook gegee.  Nou is daar verskillende onderwysers vir die onderskeie vakke en daar word meer op die kurrikulum gefokus. Die verhouding tussen die kinders en onderwysers is op ‘n heel ander vlak as in die grondslagfase.

 Die werkslading is groot en die pas waarteen werk afgehandel moet word is vinnig.  Kinders voel oorweldig deur die onbekende: nuwe vakke, die inhoud daarvan, meer huiswerk ens. Daarby is ook die onsekerheid oor wat die jaar gaan inhou. Hierdie emosies alleen is genoeg om kinders uit te put en hul vordering op skool te belemmer.  Lees meer oor angs by kinders: 

http://childtherapist.co.za/afrikaans/artikelkategorie/terapieartikel28.html

Daar is soms die verwagting dat kinders op dieselfde standaard moet presteer as in die grondslagfase en dit is nie altyd haalbaar saam met die aanpassing van die intermediêrefase nie.  Lees meer oor moontlike redes waarom kinders sukkel op skool: http://childtherapist.co.za/afrikaans/artikelkategorie/terapieartikel40.html

 Waarskuwingstekens 

 Daar is ‘n paar algemene tekens om op bedag te wees. Elke kind is anders en ouers sal weet wanneer kinders se gedrag verander, wat reeds ‘n aanduiding kan wees dat iets pla.

  • Psigosomatiese simtome; dit kan byvoorbeeld gereelde maagpyn, hoofpyn of naarheid sonder ‘n mediese oorsaak insluit.
  • Gedragsveranderings veral met eet- en slaapgewoontes. 
  • Onttrekking van maats en aktiwiteite; wanneer kinders onttrek van aktiwiteite waaraan hul vroeër graag deelgeneem het.
  • Negatiewe emosies en gedagtes; dit gaan baie keer gepaard met frases soos ‘ek kan nie,’ of ‘ek is nie goed genoeg nie,’ of ‘ek sien nie kans nie,’ of ‘ek wil nie.’

Wenke vir goeie aanpassing 

  • Erken jou kind se emosies hetsy dit moedeloosheid, frustrasie, angs of onsekerheid is. Help hulle om hul vrese te eien (‘ek is bang vir die toets’). Kinders het nodig om te weet dat dit normaal is om so te voel.
  • Hou dinkskrums oor hoe julle die uitdagings beter kan hanteer of wat jou kind nodig het om die negatiewe emosies te oorkom. 
  • Beperk onnodige spanning in die huis.
  • Wees beskikbaar, maar moenie hulle forseer om inligting te deel as hul nie gereed voel daarvoor nie. Let op na hul liggaamshouding en die dinge wat hulle nie sê nie.
  • Beperk buitemuurse aktiwiteite sodat jou kind genoeg tyd vir skoolwerk, ontspanning en gesinstyd het. Een of twee aktiwiteite is genoeg.
  • Stel haalbare verwagtings wat binne jou kind se emosionele en kognitiewe vermoë is.
  • Deel groot take in kleiner dele op. Beplan eerder vooraf sodat daar genoeg tyd is om die taak betyds te voltooi.
  • Indien nodig, maak lysies van wat gedoen moet word sodat julle vordering kan aantoon deur af te merk wat reeds gedoen is. 
  • Maak gebruik van ontspannings- en asemhalingsoefeninge om spanninng te oorkom.
  • Laat jou kind positiewe stellings maak soos: ‘Ek kan….’; ‘Ek is goed in….’; ‘Ek hou van…’
  • Prys sy harde werk deur posiewe stellings soos: ‘Ek is trots op jou!’ of ‘Ek het geweet jy kan!’ of ‘Jy is ‘n ster!.’
  • Gebruik humor en jou kind se belangstellings om die werk meer prakties uit te beeld en jou kind se aandag by die werk te hou.
  • Wees waaksaam ten opsigte van jou eie emosies en wat jy voor jou kind bespreek ten opsigte van skoolwerk, onderwysers en skoolverhoudings. Jou emosies en sienings kan jou kind negatief beïnvloed.
  • Wees geduldig met jou kind in sy aanpassing by die nuwe omstandighede.  
  • Indien jy steeds voel dat hy nie in die nuwe fase aanpas nie, gesels met die onderwysers en kry professionele hulp om jou kind by te staan.

 Alles hoef nie honderd persent perfek te wees nie. Dra vir jou kinders die boodskap oor dat jy hulle aanvaar net soos hulle is en onvoorwaardelik lief het. Die belangrikste is dat jy ‘n gelukkige en gebalanseerde kind het. 

 Vir meer inligting besoek: www.childtherapist.co.za

 

REG VIR SKOOL? 10 WENKE OM DIE NUWE JAAR AAN TE PAK

Wietske Boon

Soos met enige verandering, bring die nuwe skooljaar onsekerhede en bekommernisse mee. Kinders wonder of hul maats gaan hê en hoe hard hul sal moet werk. Ouers is bekommerd of hul kinders gaan aanpas en hierdie jaar die paal gaan haal.

Hierdie tien wenke kan jul lewens vereenvoudig en die druk op die gesin verminder.

 

Doen hierdie toetse

Wanneer laas is jou kind se sig en gehoor getoets? Kinders wat sukkel om behoorlik te sien of te hoor raak vinnig agter in hul skoolwerk. Kinders met sig-en-gehoorprobleme word dikwels geidentifiseer as ‘stadige leerders’, ‘ongehoorsaam’ of ’baie stil’, terwyl hulle inderwaarheid net nie behoorlik kan sien of hoor wat in die klaskamer gebeur nie.

 

Beplan

Om te voorkom dat julle oorweldig voel met die lading van akademie, sport en buitemuurse aktiwiteite, stel ‘n weeklikse- of maandelikse rooster op waar daar tyd ingeruim word vir huiswerk, sport-en-aktiwiteite en ontspanning. Kies liefs minder aktiwiteite sodat jou kinders genoegsame tyd aan akademie en ontspanning kan bestee.

 

Wees gereed vir die dag

Doen die vorige aand so veel as moontlik voorbereiding byvoorbeeld die pak van kosblikke, regsit van skoolklere en maak seker die skooltasse is gepak en dat alle huiswerk voltooi en briewe geteken is.

 

Ontspan

Ruim genoegsame tyd vir ontspanning in, hetsy vryspel, kreatiewe spel of ander soortgelyke aktiwiteite. ‘n Ontspanningsaktiwiteit behoort iets te wees waar jou kinders nie hulself hoef te bewys, kompeterend is of emosioneel uitputtend is nie. Dit behoort verkieslik iets te wees wat hul fisiek aan die gang hou en wat hul baie geniet eerder as om voor die TV te sit.

 

Wees betrokke

Vra hulle uit oor hul dag. Kies jou tyd vir geselsies só dat jou kind reg is om te praat oor sy dag. Sommige kinders wil op pad huis toe reeds hul dag met jou deel, terwyl ander eers tyd nodig het voordat hul begin gesels.  Kommunikeer met jou kind se onderwyser sodat jy op hoogte bly van sy vordering en ervaring van die skoolomgewing.

 

Speel skool-skool

Met jong kinders kan jy skool-skool speel waar hulle die juffrou en jy die kind is. Op dié manier gaan jy ook vinnig agterkom hoe hulle die skool en hul juffrou ervaar en waar jy moontlik kan help.

 

Maats

Maats het ‘n enorme invloed op kinders se ervaring van die skool. Hulle wil deel van ‘n groep wees, maar soms hoor ons dat hul nie maats het nie, dat die maats lelik maak of dat daar konflik is. Ken jou kind se maats en nooi hulle om te kom kuier.

Indien daar konflik is, werk saam met jou kind aan moontlike oplossings, wat om te sê of hoe om op te tree in spesifieke situasies. Herhaal die frases in die motor op pad skool toe sodat jou kind gemaklik is om dit toe te pas indien nodig.

 

Gee gesonde beheer

Daar word van kinders verwag om die grootste deel van hul dag te doen wat ander van hul vra. Hulle ervaar baie keer ‘n behoefte om in beheer van ‘n situasie te mag wees. Dit kan wees om takies om die huis uit te voer, self hul klere te kies of ‘n sê te hê in wat hul vir aandete wil eet.

 

As hy sukkel

O wee, en wanneer die skoolwerk moeilik word en die moedeloosheid toesak, moenie opgee nie! Gebruik hul belangstelling deur die werk te vereenvoudig, byvoorbeeld gebruik Lego-blokkies om maal- en deelsomme te verduidelik, bou spelwoorde met klei of voeg bywoorde, werkwoorde en beskrywende voornaamwoorde aan speelgoeddiere.

Breek die groot take in kleiner dele op sodat dit nie oorweldigend voorkom nie. Onthou om gereeld ‘n blaaskans te neem.

 

Bly kalm

Erens deur die loop van die jaar, gaan daar moontlik konflik of klein jakalsies opduik. Voordat jy reageer op ‘n insident, haal diep asem, bly kalm en hanteer die probleem rustig en met selfvertroue.

 

Begin jul jaar met moed en ywer. Op die einde van die dag is dit belangrik dat ons gelukkige en gebalanseerde kinders grootmaak.

 

www.childtherapist.co.za